Yster & Vuur

Yster & Vuur

  • 流派:Folk 民谣
  • 语种:英语
  • 发行时间:2016-03-07
  • 唱片公司:Vonk Musiek
  • 类型:录音室专辑

简介

1. Daar is 13 liedjies op die album, almal oorspronklik. Ek het alles self geskryf, behalwe “Renoster” waar ek die woorde en MD Greyling die musiek geskryf het, en “Duiwelskloof” waar Jacomien de Klerk van die woorde geskryf het. • Duiwelskloof: gebaseer op ‘n lang gesprek wat ek een aand gehad het oor Duiwelskloof, naby Tzaneen, met Jacomien de Klerk. Blykbaar word mense nogal aangetas deur die mis en die spookagtige omgewing, veral as jy alleen in die klowe ronddwaal. So was daar ook die storie van die wilde honde wat daar leef. Ek besluit toe om te skryf daaroor, en vra haar wat sy dink daarvan, en toe kom daar ‘n versie terug na my toe van haar af. Ek wou hê die song moes spook, en ek hoop hy maak wel so. Anna Davel sing saam met my. • Blommetjie: Een van my gunstelinge, eintlik geskryf vir ‘n vrou om te sing, maar dis my album, en toe sing ek dit maar self. ‘n Eenvoudige sprokie van wraak en verspeelde liefde, wat soms net-net raak aan kwessies soos oorlog, en veral die futiliteit van woede en wraak. • Renoster: Musiek deur MD Greyling. Die lied gaan oor die slagting onder ons renosters, en die absolute onnoselheid daarvan. Hoe gierigheid en die mite van ‘n stywe p—l kan lei tot ‘n ongekende slagting van ‘n spesie. Die vraag word gestel: wat los ons vir die nageslag? Om die lied ‘n groter trefkrag te gee het ek Gerhard Steyn, Lochner de Kock en MD Greyling gevra om saam te sing. • Jakkalsmaan: ‘n Grootliks ongedurige lied, wat die gevoel van ‘n soel skemer probeer vasvang, waar twee mense aan die einde van ‘n ongelukkige verhouding nie meer kan kommunikeer nie. Ek het lank en hard gewerk aan die musiek hiervan, en wou veral iets heeltemal anders en oorspronklik skep. Ook een van my gunstelinge. • Bettysbaai se Berge: Ek was nog altyd gefassineer deur dié plek, die berge, die wind, die storms en die vure. Ek het stories gehoor van grotte in die berge, en die res het vanself gevolg. ‘n Ballade in die ware sin van die woord. • Die groot man langs die water: dit het begin as ‘n onskuldige lied vir ‘n vriend van my, maar binne drie reels hand-uit geruk en ontaard in ‘n dekadente en morsige viering van die lekkerste, grootste en nimmereindigendste partytjie. Nogal mal. • In my wentelbaan: Leon van Nierop het vir my ‘n gedig gestuur wat gebruik is in die rolprent van Ballade vir ‘n Enkeling. Ek het ‘n versie en ‘n refrein bygeskryf en die woorde getoonset en toe het ons ‘n nuwe lied. • Reën vir die droë grond: My gunsteling, dus gewis nie ‘n stamptreffer nie. Nogal ‘n persoonlike lied. Dit gaan oor stilte, inspirasie en die misterieuse plek waar liedjies vandaan kom. • Yster en vuur: ‘n Terugskouing van ‘n harderige lewe, nie noodwendig myne nie. Maar soos die liedjie sê, ek het brue verbrand en met die duiwel gestoei, die houe gevat en vir die liefde gebloei. Moet miskien in ‘n kroeg gesing word. • Min gepla: Vir almal wat so daarvan hou om te kla. My blue grass ode aan die mense vir die son altyd skyn terwyl hulle heeltyd lag. • Skepe in die nag deel 1: Destyds die een liefdestema vir die TV-reeks Ballade vir ‘n Enkeling. Na die afsterwe van die heldin, het deel 2 gevolg. Na verskeie heruitsendings het soveel mense my gevra waar hulle die liedjies kan kry, dat ek besluit het om die twee liefdestemas weer op te neem. Hulle bly albei van my gunsteling liedjies. • Skepe in die nag deel 2: Sien bo. • Doring op die dansvloer: Kommentaar op wat ek sien en hoor die afgelope 20 jaar. Dalk ‘n stamptreffer? Soos my vorige albums het ek en Andrew Roos saamgewerk hieraan. Hy het meeste van die verwerkings gedoen, opgeneem en gemeng. Hy het ook die Hammond orrels en al die keyboards gespeel. Johan Rautenbach het al die kitaarwerk gedoen, elektries en akoesties, behalwe op Reën vir die droë grond waar ek gespeel het. Hy het ook die papoose gespeel. Conley van der Westhuizen (my seun) het die tromme gespeel. Evert van Niekerk het viool gespeel. Susan Mouton het tjello gespeel. Gianni Swart het blokfluite gespeel. Ek en Andrew is die uitvoerende regisseurs. Soos my vorige albums is elke deeltjie met groot sorg aanmekaargesit. Die liedjies is ryper en meer waaghalsig, beide met woorde en musiek, en ek kon nogal kanse vat met die skryf daarvan. Dit kom seker maar met die ouderdom.

[更多]

此歌手的其他专辑